1 Korintiërs 15: 12-19

Baie skeptiese en twyfelende mense voer aan dat daar geen historiese bewyse vir Jesus se opstanding aangebied kan word nie. As argument voer hulle aan dat daar heelwat teenstrydighede in die verskillende vertellinge van die opstanding is sodat ’n mens skaars die waarheid daarvan kan glo. Wat die skeptici goedsmoeds vergeet, is dat die verskillende Evangelieskrywers ’n eie karakter en invalshoek aan die opstandingsgebeure verleen het. Daar is by al vier die Evangelieskrywers geen twyfel nie dat die opstanding wel plaasgevind het. Die opstandingsgetuies se doen en late word net verskillend belig, en die Evangelieskrywers laat verskillende klemtone op Jesus se optredes na sy opstanding val.

Verbete teenstanders van die opstanding baseer hul argumente op ’n interpretasie van Matteus 27: 62-66 en 28: 11-15, waar beweer word dat Jesus nie opgestaan het nie, maar dat die dissipels Jesus se liggaam uit die graf gesteel het.

Hoe antwoord ons? Dalk moet ons na ’n ander manier van antwoord kyk. Een van die groot Nuwe Testamentiese teoloë van ons tyd het op ’n keer deur al die besware en argumente gewerk oor hoekom die opstanding nie ’n historiese feit kan wees nie. Het Jesus dan nie opgestaan nie? het hy gevra. Natuurlik het Hy opgestaan, het hy uitgeroep. Hoe weet ek dit? Hy het met sy vinger na die naaste kerkganger gewys en gesê: Jy is tog die opgestane Christus. Waarop hy onmiddellik gevra het: Is dit kettery om so te sê? Waarop hy geantwoord het: As die opgestane Christus nie in julle leef nie, wat help dit dat ons al die bewyse van sy opstanding kan bring? As Jesus as die opgestane Here nie in die kerk leef nie, as Hy nie in ons wat in Hom en die opstanding glo leef nie, as Hy nie ons lewens verander nie, as Hy nie deur die kerk die wêreld verander het nie, help dit niks dat Hy opgestaan het nie. Dan het sy opstanding, al het Hy werklik opgestaan, aan jou lewe niks verander nie.

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap