Psalm 2: 1-12; Daniël 4: 28-37

Waarom is daar onrus onder die volke, waarom smee die nasies planne – en dit tevergeefs? Dit is die vraag waarmee Psalm 2 begin. Dit is ’n aktuele vraag ook vir ons eie tyd. Die antwoord op hierdie vraag is daarin geleë dat die mensdom deur al die eeue self in beheer wil wees en hulself nie ondergeskik wil stel aan enigeen nie. Dit is vir ons moeilik om enige gesag in ons lewens te aanvaar. Daar is by mense die begeerte om saam te span teen die Here en sy juk af te gooi (Ps 2: 2, 3). In Daniël 4 lees ons hoe Nebukadnesar homself verhef het en geroem het dat hý deur sy groot mag die koningstad gemaak het tot sý eer en roem. God bring hom tot ’n val, en eers dan gee Hy erkenning aan die koningskap van God (Dan 4: 36, 37).

Met die koms van Jesus na die wêreld was daar ook die verwagting dat Hy die Romeinse gesag omver sou werp, sodat die Joodse volk in beheer sou wees. Baie mense het weggedraai van Jesus af, omdat hulle teleurgesteld was in dit wat Hy verkondig het en die wyse waarop Hy opgetree het. Jesus praat nie van regering nie, maar van die koninkryk van die hemel. Dit was Jesus se doel om die koninkryk van God in mense se lewens te vestig. Dit kan slegs gebeur as ons bereid is om onsself ondergeskik te stel aan die Heerskappy van God. Dit vra die bereidheid om te dien, eerder as om te roem. Dit vra die bereidheid om God se gesag ten volle in ons lewens te aanvaar.

U, Here, is ons koning – Een wat met mag regeer.

U onderdane lofsing en buig hul voor U neer.

Groot is u Naam en heilig, getrou is U en goed.

U, Here, is ons toevlug – die God wat ons behoed.

(Gesang 470: 1)

Ds Martin Meyer, Secunda

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link