Klaagliedere 3: 16-30
Klaagliedere is presies wat die naam sê: liedere van mense wat kla. En ons as mense is darem maar lief om te kla. Partykeer kla ons net omdat ons kan, maar soms het ons regtig rede om te kla. Daar is in ons almal se lewens dinge wat ons moedeloos maak, wat maak dat ons nie weet wat die toekoms vir ons inhou nie. Vir baie van ons is daar nie ’n lig aan die einde van die tonnel nie.
Hierdie gevoel van hulpeloosheid, dat ons as mense maar net uitgelewer is aan die wêreld en geen beheer oor ons toekoms het nie, is nie ’n nuwe ding nie. Dit is ’n tydlose worsteling wat waarskynlik so oud soos die mens self is. Die volk van die Here, hulle wat hier in Klaagliedere aan die woord is, het hulself ook in ’n hopelose situasie bevind. Dit gaan so sleg met hulle dat hulle gedink het daar is geen uitkoms nie, geen manier hoe hulle ooit uit hierdie situasie sou kom nie. Die swaarkry binne hierdie slegte omstandighede was hul toekoms, dit sou die res van hul bestaan wees. So sleg was dit vir hulle dat hulle baie amper selfs hul hoop in God verloor het. Maar hulle ken die Here, hulle weet dat die Here se straf nie vir altyd sal aanhou nie. Kort voor lank sal sy liefde weer ervaar word. Hieraan hou hulle vas.
Hoop is ’n wesenlike element van ons geloof. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop, soos Romeine 8: 24 dit beskryf. As gelowiges hoop ons nie net vir ’n beter situasie in hierdie lewe nie, maar ten spyte van wat ons hier deurmaak en nog gaan deurmaak, leef ons met daardie hoop op ’n beter lewe, ’n ewige lewe, sonder seer, swaarkry, hartseer of enigiets wat sleg is.
Hou moed, hoop op God, vertrou op Hom. In hierdie wêreld is Hy ons enigste uitweg. …en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie (Klaagl 3: 21-22).
Ds Marsulizé van Niekerk, Upington
