2 Samuel 22: 20, 29-30

’n Tegniek in pastorale berading is die vraag: Hoe sien God jou? Dit keer die gewone om: Hoe sien jy God? Op die gewone gee mense ’n katkisasieantwoord. Wie is jy in God se oë? ontlok ’n eerliker verhoudingsantwoord. Is God se liefde vir jou groot en ruim? Kyk God vriendelik na jou? Voel jy God se warmte? Ervaar jy dat God jou hand vat en jou oor struikelblokke help? Voel jy vrede? Voel jy veilig? Óf is God teleurgesteld in jou? Jy is tog niks besonders nie en doen nie veel vir God of ander nie. Want wie God se liefde nie ervaar nie, sal die blyke daarvan nie raaksien nie. Hulle verwag ook nie veel van God nie.

Dawid se danklied is die gebed van ’n mens wat alles van God verwag – nie omdat hy so goed, gelowig of sondeloos was nie. Inteendeel, Dawid het baie foute gemaak. Maar hy het iets van God se liefde vir hom verstaan. Daarom kon hy God se hand in sy lewe raaksien en het hy geliefd, geborge en bevry gevoel. Dawid is aan die einde van sy loopbaan en staan op die punt om af te tree. Hy kyk terug en sien: God was sy beskermer en helper dwarsdeur sy lewe, deur oorlog en gevaar, maar ook as die nood nie so hoog was nie. Dit is juis dan wanneer mense dikwels dink hulle kan self regkom. God was nooit aan die rand nie, maar altyd in die sentrum van sy lewe. God het gehoor as hy roep. God was nooit doof of afwesig nie. Dramaties het God die hele skepping, die natuurverskynsels, ingespan om hierdie een klein mens te help.

Wie naby aan God lewe, is nooit uitgelewer aan die eie menslikheid en mislukkings, of aan die magte en kragte van die wêreld nie. So ’n mens se lewe is ’n oorwinning. Wie alles van God verwag, kan sê: U laat my lamp helder skyn, met my God spring ek oor ’n muur.

Prof Yolanda Dreyer, Universiteit van Pretoria /     Nederlandssprekende Gemeente

af
af
Deel met behulp van
Copy link