Kolossense 2: 6-15

Nadat Paulus opnuut sy gesag asook sy boodskap gevestig het, gaan hy opnuut daartoe oor om te sê wat die implikasie daarvan is. Die volgende dagstukke handel juis hieroor: die invloed van Christus op jouself in terme van deugde en ondeugde, op die huisgesin, op diegene buite die gemeente en laastens op die gemarginaliseerdes. Hy begin sy betoog deur te sê dat Christus nie net ontvang moet word nie, maar dat daar ook in Hom gewandel moet word. Die werkwoord wandel in Grieks impliseer ’n voortdurende sowel as ’n omvattende aksie – in ons taal “orals en altyd”. Paulus doen weer eens ’n beroep op die Kolossense om nie in hierdie opsig mislei te word deur enigiemand nie. Hy gebruik verskeie argumente om sy standpunt te stel, waarvan ek slegs twee gaan behandel.

Die eerste kom voor in vers 15, naamlik dat Christus alle magte en gesagte oorwin het en dat Hy hulle in die openbaar vertoon het. Hierdie is ’n geweldig vernederende beeld uit die Romeinse Ryk. Die generaals van die vyand is gewoonlik ná ’n veldslag gevange geneem, kaal uitgetrek en in die strate van die vaderland vertoon. ’n Mens kan jou indink hoe die skares hulle sou uitjou en verkleineer. Paulus wil maar net hiermee sê dat Christus die oorwinnaar is.

Die tweede argument wat Paulus gebruik, is dié van ’n skuldbrief teen ons wat aan die kruis gekanselleer is (vers 14). Hierdie skuldbrief was ’n verdoemende dokument vir die oortreder. Al die transaksies is tot in die fynste detail opgeskryf. Gewoonlik het dit in die howe van daardie tyd as getuienis teen ’n mens gedien. Nou sê Paulus dat hierdie skuldbrief as gevolg van die kruis tot niet is.

Dit is duidelik wat Paulus hier doen: Hy kweek ’n kultuur van wenners. Die verloorders en oningeligtes ondersteun die magte en gesagte, maar nie diegene wat Christus ontvang het en in Hom wandel nie. In wie se span is jy? Hoor ek jou sê: In Christus se span! Moet dan nie soos ’n verloorder optree nie.

Prof Pierre Jordaan, Wonderfontein

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link