Filippense 4: 8 en 9

As ons na die lewe kyk, is dit baie keer moeilik om enige vrede raak te sien. Oral is almal haaks met mekaar. Vriende en families stry. Daar is bevoordeeldes en benadeeldes, vaxers en nonvaxers, Stem-sangers en Stem-haters, krieketondersoekers en rugbyontleders, beskuldigers en beskuldigdes, skuldiges en onskuldiges en geskorstes.

Ons leefwêreld is baie arm aan vrede. Kersfees gaan egter oor die Vredevors, Die engele sing met sy geboorte vrede op aarde. By Jesus se verskyning aan sy dissipels na sy opstanding groet Hy hulle met Vrede vir julle. En gelowiges word gelukkig genoem as hulle “vredemakers” is. Daar is onvrede rondom ons, want die Vredevors is nog nie oral bekendgestel nie. Vredelose ruimtes in die wêreld moet ons opgewonde maak, want dit is die speelveld waarop ons sy vrede kan gaan voorleef. ’n Situasie wat vrede kort, is my kans om vrede te gaan leef. God gaan immers nie sy vrede uit die hemel die aarde soos ’n bliksemstraal laat tref nie. Die vredemaker-dissipels moet dit ’n werklikheid laat word!

Ons is versot op “onvrede-dinge”. Ons rig graag ons gedagtes op alles wat verkeerd is, alles wat nie reg is nie. Ons fokus op slaggate, vuil water, diskriminasie, swak diens, koue kos, flou koffie, vervalle geboue, ongehoorsame kinders, en ouers wat nie verstaan nie. Ons doen moeite om ons bloeddruk hieroor op te jaag. En dan wonder ons verbaas, waar is die God van vrede…

Kom ons draai in die feestyd ’n bietjie ons gedagtes om. Paulus daag ons uit om ons gedagtes te vul met enige prysenswaardige saak. Vul jou kuiers en gesprekke met enigiets goeds; enigiets behalwe die gemors waarmee ons mekaar gewoonlik die verdrietigheid in praat. Die gebroke wêreld waarin ons leef, is juis die speelveld waarop ek en jy God se vrede kan gaan demonstreer. Konsentreer op wat die apostels ons leer. En die God van vrede sal by ons wees.

Gebed

Here, mag ek my gedagtes rig op die dinge daarbo, sodat ek draer van u vrede kan wees. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap