Jesaja 9: 1-6

In die dolle gejaag van Maandag tot Vrydag, kom die bekende lirieke van Koos Kombuis by my op: Almal wil ’n huisie by die see hê, almal dink die struggle is verby, almal dink die lewe is eers môre, maar môre is te laat vir my.

Ons werk hard in die lewe om net ons plekkie onder die son te hê en om net ’n bietjie vrede en voorspoed te beleef. Ons werk hard vir daardie huisie by die see. Ons stoei deur die werkweek met bebloede uniforms en oorlogskoene. Om net weer teleurgesteld te staan oor die tekort aan vrede en voorspoed. Ons veg so hard en vind so min. Dit maak dat ’n mens tot die besef kom dat ons dalk hierdie lewe verkeerd benader. Ons is so gefokus daarop om ons toekoms te bou, ons laat God nie toe om vir ons ’n toekoms te openbaar nie. Dit is in die koms van Jesus Christus dat ons ’n nuwe benadering vind.

Hy is die Vredevors wat alles in die lewe kom verander. As ons net vir ’n oomblik kon besef dat God ons bebloede uniforms en die oorlogskoene (soos Jes 9 ons leer) verbrand, sou ons besef dat God vir ons in Jesus Christus vrede en voorspoed gee. Dit is soos Psalm 127: 1 ons herinner: As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.

Ons kan nie net veg en werk vir vrede en voorspoed nie, ons moet dit by God kan vind. Geld, sukses en die huisie by die see belowe baie, maar voorsien so min. Net Jesus Christus kan dit verseker. As ons fokus skuif na die Seun wat vrede en voorspoed bring, sou ons dalk kon sing: Almal wil ’n huisie by God hê, Hy bring verlossing vir my. Almal sê die lewe is eers môre, maar Jesus bring vrede en voorspoed vir my.

Ds Juan de Beer, Parys

Share via
Copy link
Powered by Social Snap