Matteus 1: 18-25 

Dis amper Kersfees! Ons vier een van die dae die geboorte van ons Verlosser, Jesus Christus. Baie mense het al geskenke gekoop. Kersbome is ook al opgeslaan. Heerlike spyskaarte word beplan en baie geld word uitgegee.

Tussen die geharwar en besigwees is ons eintlik veronderstel om stil te word en die ware betekenis van Kersfees in te neem. En dit is soms regtig moeilik. Daarom gaan ons hierdie week terugkeer na die hart van Kersfees. Die versierings aan ’n Kersboom gaan ons hiermee help. Die kieries, sterre, engeltjies en geskenke maak dit dalk weer vir ons moontlik om die hart van Kersfees te herontdek. Nee, daar was nie ’n Kersboom by Jesus se geboorte nie, maar dalk, wanneer u volgende jaar die Kersboom afstof en weer opslaan, sal die ware betekenis van Kersfees tog weer onthou word en sal u nuwe waardering vir die Kersversierings kry. Hierdie Kersversierings herinner ons dalk weer volgende jaar aan die ware betekenis van Kersfees.

Daar staan in Matteus 1: 23: “Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons. God is by ons in ons doen en late, in ons geharwar en besigwees. Maar Hy is ook by ons in ons stil-wees en bewus-word van Hom. Mag ons in hierdie tyd elke oomblik bewus wees van sy teenwoordigheid.

Gesang 344

Ds Maritza Oosthuizen, Belfast/Waterval Boven

af
af
Copy link