Lukas 1: 26-38

In Nasaret het ’n jong meisie gewoon wat swanger was en verloof was aan Josef, ’n timmerman en lid van die plaaslike Joodse gemeente, die sinagoge. Hierdie jong meisie se naam was Mirjam, want haar ouers het haar hierdie naam gegee. Dit is dieselfde naam van die meisie wat oor haar broer in die biesiemandjie daar tussen die rietbosse in die Nylrivier wag gehou het.

Hierdie meisie se ouers was gelowiges in die Here. Hulle het die geskiedenis van hul volk daar in die verre verlede goed geken. Moontlik in die lig daarvan het hulle hul dogter na die vrou van die uittog vernoem. Mirjam is die Hebreeus vir Maria. In die Grieks en Latyn word Mirjam met Maria vertaal, soos ons haar vandag in ons Afrikaanse Bybel ken. Sy was die moeder van Jesus wat in Betlehem gebore is.

Met die geboorteverhaal van Jesus, wat sy volk uit die slawehuis van sonde sou lei soos Moses wat gebore is om die volk uit Egipte te lei, sou die naam Mirjam, oftewel Maria, weer opduik. Net soos Mirjam, die suster van Moses en Aäron, in die moeilike tyd van haar volk se lewe daar in Egipte getrou op haar pos gebly het en ’n instrument in die hand van die Here was om redding vir die volk te bring, het hierdie jong meisie van Nasaret haar bereid verklaar om ook so ’n instrument in God se hand te wees, toe sy geroep is om die beloofde Messias as Verlosser in die wêreld gebore te laat word. In volledige gehoorsaamheid aan God het sy uitgeroep: Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.

’n Jong meisie sou die Verlosser in die wêreld bring. Sy het nie teruggedeins vir hierdie groot roeping nie. God werk inderdaad op wonderbaarlike maniere. Hy gebruik die kleine en die geringe om sy groot verlossingswerk vir sy mense wat Hy liefhet, op aarde ’n werklikheid te laat word.

Ds Arie Kuyper, Villieria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link