Psalm 8

Psalm 8 is ’n bekende en geliefde Psalm. Soos in Prediker, word ons in hierdie Psalm bewus van God se onbegrensdheid en almag teenoor die mens se nietigheid. Tóg bemoei God Hom met die mens. Hy het ons net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en ons aangestel oor sy ganse skepping.

Ons vier vandag die vierde Adventsondag, volgende week is dit Kersfees. In aanloop tot Kersfees vier ons net dit, God se bemoeienis met die mens! In Christus het God afgebuig na ons toe en ons sy kinders gemaak. Christus vergestalt God se genade, God se ontferming oor die mens.

Oor God se genade sê 2 Korintiërs 12: 9 (AFR2020): My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Wanneer ons ons eie swakheid erken, wanneer ons in afhanklikheid voor God staan, eers dan word ons bewus van sy genade. Dan wil ons soos die skrywer van Psalm 8 uitroep: Wat is die mens dat U aan ons dink? Wie is ek dat God Hom oor my ontferm? As ek die hele skepping aanskou, wat is daar aan my, dat God Hom met my bemoei?

Opvallend is egter dat die psalmis nie ’n antwoord gee vir sy eie vraag nie. Wat hy wel doen, is om God se grootheid en goedheid te prys. Dit op sigself gee die antwoord. God doen nie al hierdie dinge vir die mens omdat daar enige noemenswaardige dade van of waarde aan die mens is nie, of omdat die mens so goed is nie, maar omdat God so goed is: …want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy Seun gegee het…

Hoe is dit dan dat U tog na ons omsien,

die brose mens omstraal met u nabyheid?

U maak ons sterk, U kroon ons met u glans:

Ons hoort by U en word deur U omskans.

 

O, Here God, u Naam is groot op aarde!

U hemelruim strek tot die verste einders:

Waar menseoë geen stippel meer gewaar,

daar straal en skyn nog steeds u majesteit!

(Psalm 8: 4 en 6 – Lina Spies)

Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap