Openbaring 22: 1-5
Die lig hét na die wêreld gekom, en die duisternis kon dit nié uitdoof nie. Dit is die bevestiging waarvan ons die afgelope dae weer bewus geword het. Terwyl ons hiervan bewus is, kyk ons rondom ons en sien hoe stukkend en gebroke ons wêreld is. Ons voel dalk self die seer van die dood, ander verlies en stukkende verhoudinge. Ons luister na die gerugte oor oorlog, misdaad, magsmisbruik en vergrype. Wat is die betekenis van God se koms na die aarde as ons vaskyk teen alles wat stukkend en donker is? Paulus se woorde in Romeine 8: 22 eggo in ons ore: Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. Ons verwag dat God ons sal bevry van verganklikheid.
Ons verwagtinge kan soms misplaas wees. Ons is in hierdie gebroke wêreld waarin daar altyd donkerte sal wees. Ons mag nie net vaskyk teen die donker nie. Ons mis dalk die lig omdat ons ons misgis met die lig en die verkeerde soort lig soek.
Christus het ons met God kom versoen. Sy redding het ons verhouding met God kom herstel en vir ons ewige lewe gebring. Redding wat tyd en grense oorbrug. Wanneer ons dan vaskyk teen die duister in hierdie tyd en ruimte waarin ons leef, moet ons steeds die boodskap van lig hoor. Die duister het nie oorwin nie. Die laaste vyand is verslaan. Johannes sien dit ook in sy visioen op die eiland Patmos. In Openbaring 22 lees ons in beeldryke taal hoe die nuwe lewe in God se teenwoordigheid sal wees. Daar sal niks meer wees wat deur God vervloek is nie. Die troon van God en die Lam sal in die stad wees. Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het geen lig nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig. Hy is die Lig!
In Christus het ons hierdie lig gesien, en deur Hom gaan ons in hierdie lig lewe. Hy is die Lig, hou jou oog nou op Hom gerig.
Ds Manda le Roux, Weskus