Jesaja 6: 1-13 (AFR2020)

In sy visioen ervaar Jesaja vier dinge. Die eerste is die asemrowende grootsheid van God. Die tweede is die hemelse leërskare van serafs wat God se heil besing. Die derde is sy eie onreinheid. Die vierde is God se vergewing. Dan hoor hy God se stem wat vra: Wie kan Ek stuur as boodskapper?

Jesaja kan nie anders nie as om te antwoord: Hier is ek, stuur my! Die taak wat hom opgelê word, is nie ’n maklike een nie. Hy moet ’n boodskap van onheil bring: Kwaad het noodwendige gevolge. Dit loop uit op bederf en vernietiging van alles wat kosbaar is. Hoe ver moet dit gaan, Here? vra Jesaja.

Tot alles verwoes en verlate is. Daar sal so te sê niks oorbly nie, behalwe ’n stomp wat dood lyk. Maar uit daardie stomp sal weer ’n takkie spruit. Dit is die gewyde geslag.

Ons kan die volgende waarhede hier uitwys:

God is groter as alles. Hy is te vind in die kerk, wat spesifiek aandag gee aan Hom en sy verhouding met die mens. Maar dit is net die soom van sy kleed wat die kerk vul. Hy is altyd hoër en groter as wat ons vermoed, en is ook buite die kerk te ontmoet.

God is heilig, en alles anders is onrein. Ook ons. Juis ons. Om vergifnis te ontvang, is ’n bevryding, maar soms moet jy aangeraak word met ’n gloeiende kool, want dit is wat dit kos om afstand te doen van jouself en jou idee van jouself.

Om vergewe te wees, beteken om bereid te wees tot diens. As jy die Here hoor vra Wie kan Ek stuur? is dit nie die tyd om weg te kruip agter ander nie. Dit is wanneer jy sê: Hier is ek, stuur my!

Ten slotte: Hou vas aan die hoop. Selfs al sien jy net ’n dooie stomp, is daar altyd verborge lewe. God waarborg dit. Ook in jou eie verhaal. Moenie moed opgee nie. Jy is deel van ’n gewyde geslag. Ontmoet God met oop oë en ore en verstand. Jy sal sien hoe jou lewe verander.

Dr Piet van Staden, Stellenbosch/Worcester

af
af
Deel met behulp van
Copy link