Lukas 5: 5

Simon het die preek verstaan, nie met sy kop nie, maar met sy hart. Dat die hart hierdie insig kry, is die geheim van die aanspraak wat God op ons maak. Na die geswoeg van die nag, waag Simon dit om te glo: op u woord sal ek die nette uitgooi. Sy waagmoed word beloon, en hy trek die volheid van die lewe in, want die woord is self die lewe.

Dag en nag dra simboliese waarde in ons verhaal. So lees ons (Mark 1: 32-33) dat toe die son al gesak het, het die mense al die siekes en dié wat onder bose geeste deurloop na Jesus toe gebring om gehelp te word. Eindelik drom die hele dorp saam voor Jesus se deur. Dit is die skare wat vra …wanneer is die nag verby? (Jes 21: 11). Die nag is simbool van die ou bedeling, van die sonde, daarom vra hulle na die God in wie se lig ’n mens kan voortgaan: Die volk wat in die donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn (Jes 9: 1).

In teenstelling met die geswoeg van die nag wat niks oplewer nie, trek hulle toe in die mȏrelig ’n groot klomp vis uit. Die vangs is so groot dat hul maats in die ander skuit moet kom help. En hulle kan sommer ook agterkom dat Jesus nie maar net toevallig weet waar en wanneer die skole vis gevang kan word nie, maar dat Hy mag sê: Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee (Joh 8: 12).

Ag, ons tel die donker ure

tot die deurbreek van die dag.

(Gesang 487: 1)

Dr Piet Boshoff, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link