1 Korintiërs 3: 1-9

Somtyds kan ’n gemeente van ons Here Jesus die aakligste slagveld word! ’n Klomp mense wat nie meer goed wil wees vir mekaar nie. Die jaloesie en twis wat Paulus self in die gemeente van Korinte beleef het, word so maklik ook ons werklikheid. Waarom gebeur dit? Paulus sny dadelik tot op die been in sy brief aan die gemeente. Daar is twee maniere waarop selfs kerkmense kan lewe: Hulle kan lewe soos mense wat hulle deur die Gees van God laat lei, of soos mense wat aardse belange eerste stel. Paulus noem hierdie tweede soort wêreldse mense. In kontras met hulle, hou mense wat hulle deur die Gees van God laat lei, die oog baie sekuur op God gerig.

Epifanie, ons Here se verskyning in ons wêreld, het juis ten doel om ons menswees en so ons wêreld te verander. Soos enige boer, wil die Here hê dat dit wat Hy geplant het, moet lewe. Sien raak dat die Here aan die werk is in ons lewens en ons gemeentes. Hy verskyn in Jesus Christus, Hy neem ons straf op Hom en betaal die prys ten volle om ons vry te maak. Hy wil lewe en seën vir sy kinders hê. Ja, Hy roep mense om hierdie evangelie te plant en nat te gooi. Ook ons deel in hierdie voorreg. Tog is dit altyd God wat laat groei en kom al die eer Hom alleen toe. Ons kan nie op onsself roem nie en daar is geen rede om op iemand anders jaloers te wees nie.

Kom ons gaan lewe soos mense wat hulle deur die Gees van God laat lei, en nie soos wêreldse mense nie.

Gebed

Here, maak ons gemeente ook ’n saailand waarop U trots kan wees. Help ons om altyd te onthou, maak nie saak wie werk in hierdie saailand nie, dit is U wat laat groei en lewe. Aan U kom al die lof en die eer toe, tot in ewigheid. Amen.

Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid

Share via
Copy link
Powered by Social Snap