Psalm 91

Ek onthou nog dat daar in die 1990’s baie motors was met ’n bufferplakker wat sê: Hierdie motor word beskerm deur Psalm 91. Maar wanneer ek van my studentewerk by Kerkplein terug na my woonstel in Sunnyside geloop het, het ek van die motors met die plakker gesien wat gestamp was en waarvan die ruite deur booswigte stukkend geslaan is.

Dit laat ’n mens wonder: Wat wil hierdie Psalm nou eintlik sê? Sê hierdie Psalm dat as God jou skuilplek is, niks sleg jou sal tref nie? Beteken dit dat jy op ’n onrealistiese wyse moet vashou aan die hoop dat niks sleg jou sal tref nie? Dat jy nie siek sal word nie, niks sal verloor nie, met niemand in onvrede sal beland nie? Dat alles net goed sal gaan? Ek glo nie…

Ek is van mening dat ons hier met ’n gelowige te doen het wat sê hy vertrou God volkome, selfs al gaan alles in die lewe nie net voorspoedig verloop nie. Omdat hy weet wie God is en hoe God is, kan hy bely: Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie. Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.

Die werklikheid is dat ons altyd siekte, vyande en booswigte in ons lewens sal hê, maar die digter weet dat omdat hy God aan sy kant het, as ek dit dan so mag stel, hy staande sal bly. In Christus weet ons in elk geval, selfs al loop alles skeef, dat ons lewens steeds betekenis het en dat ons begenadig is om God se mense te wees.

Kom ons hou vas aan hierdie wete, ook met alles wat vandag in ons rigting gegooi kan word, want ons weet die Here is by ons wat Hom dien, en dit is genoeg.

Ds Willem Sauer, Waterberg

af
af
Deel met behulp van
Copy link