Markus 4: 35-41

Jesus se algemeenste opdrag aan mense spruit voort uit die opdrag: Moenie bang wees nie! Die vier Evangelieskrywers lys 125 opdragte wat Christus gegee het. 21 keer daarvan sê Jesus: Moenie bang wees nie! Of positief gestel: Hou moed! Wees dapper! Die algemene opdrag wat tweede kom, kom net agt keer voor. Dit is die opdrag om God lief te hê en jou naaste soos jouself. As die aantal kere wat die opdragte voorkom vir ons ’n aanduiding sou wees, is dit duidelik dat Jesus die vrees van mense ernstig opgeneem het. Hoekom die opdrag om nie bang te wees nie?

Het die dissipels tydens die storm ag geslaan op hierdie woorde van Jesus? As hulle het, sou hulle geweet het Hy roep ons om moedig en dapper te wees! Waarskynlik het Jesus presies geweet wat vrees doen. Vrees vreet ons vertroue in God se goedheid weg. As Jesus kan slaap in storms, as sy oë toe bly wanneer ons oë wydgesper is van vrees, as Hy storms toelaat nadat ons in die boot geklim het, gee Hy dan regtig om? Doen net iets aan hierdie storm, Here! Vrees bring twyfel.

Vrees, op sy ergste, is ’n definitiewe verlies aan beheer. As die lewe spin, gryp ons na iets wat ons wel kan beheer: ons dieet, of die vliegtuig se stoelleuning, of in baie gevalle mense. Hoe meer ons onveilig voel, hoe gemener word ons.

Vrees maak ook ons geloofsherinneringe dood. Die dissipels het soveel rede om Jesus te vertrou. Moet iemand nie dalk net weer ’n beknopte oorsig gee oor al Jesus se wonderwerke nie? Vrees skep ’n vorm van geestelike geheueverlies onder die dissipels. Vrees maak ons wonderwerkgeheue dof. Dit laat ons vergeet wat Jesus gedoen het en hoe goed God is. Omdat Jesus ons vrese ken, tree Hy in en daag Hy telkens op om ons vrees te verdryf. Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my (Ps 23: 4).

Ds Jimmy Manders, Witfontein

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link