Matteus 5: 4; Johannes 11: 17-36

Cowboys don’t cry, sê ons vir mekaar, veral vir ons seuns. As jy sterk is, huil jy nie. Dis ’n teken van swakheid. Wanneer ons seer het, wil ons so gou moontlik daaroor hardloop sodat ons met ons lewens kan aangaan. Moenie die kinders na ’n begrafnis toe neem nie, dit sal hulle net ontstel. Moenie te lank treur oor jou huwelik wat verby is nie. Begin so gou moontlik weer die drade van jou lewe optel. Kry daardie slaappil wat jou snags van jou verlies laat vergeet. Ontvlug uit jou verlies, of vermy dit.

Tog, om te treur, is ons natuurlike reaksie oor ’n verlies wat ons ervaar het. Dit is hoe ons aanmekaar gesit is. Dood, ’n egskeiding, ’n kind wat die huis verlaat, verhuising na ’n nuwe omgewing, die verlies van jou gesondheid, jou werk, ’n troeteldier, politieke verandering. Seer is seer en ons kan nie daarvan weghardloop nie.

Lasarus was ’n goeie vriend van Jesus. Wanneer Jesus by Lasarus se graf kom, huil Hy. Hy berispe Marta en Maria nie wanneer hulle Hom verwyt omdat Hy te laat opdaag nie. Hy gee nie slim antwoorde oor die oorsaak van lyding en wat God ons sogenaamd daardeur sou wou leer nie. Jesus huil omdat Marta en Maria huil. Hy huil oor hul pyn. Hy huil omdat Hy saam met ons voel as ons seerkry. Hy huil omdat geloof nie altyd vir mense sin maak wanneer hulle seer het nie. Jesus weet van pyn. Het Hy nie ook in sy verskriklike pyn uitgeroep nie: My God, my God, waarom het U My verlaat? Jesus voel saam met ons, Hy ly saam met ons. Hy het medelye met ons.

Gelukkig is hulle wat die moed het om hul seer te erken vir wat dit is. Gelukkig is hulle wat hulself toelaat om seer te hê en stap vir stap daardeur te werk. Gelukkig is hulle wat bereid is om medelye met ander se seer te toon. Gelukkig is hulle wat weet dat God ons diepste seer ken en in ons donkerte teenwoordig is.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia

af
af
Deel met behulp van
Copy link