Jesaja 40: 27-31
Die boek Jesaja vertel die verhaal van drie verskillende dele in die volk van God se geskiedenis. Vandag se Skriflesing tref ons aan in die verhaal wat handel oor ’n stukkende en moedelose volk. Net soos wat met ons ook gebeur, verval die volk in ’n geloofskrisis tydens die droefheid van hul ballingskap. Maar die geloofskrisis sentreer nie rondom die bestaan van God nie. Hul krisis lê in die vrees dat God van hulle vergeet het en hulle weens hul afvalligheid nou finaal verlaat het.
Daarom is hierdie bemoediging van Jesaja 40 so kosbaar. Dit bevestig aan die volk ’n waarheid wat ons tot vandag toe steeds bemoedig. Eerstens word God self nie moeg nie, en God gee aan almal wat hulle nodig het om deur die worstelinge te kom waarin hulle geval het. Tweedens gebeur dit met die beste van mense dat hulle struikel en val. Dit is egter nie ’n onomkeerbare finale eindresultaat van jou lewe nie. Maar derdens sien ons deur die res van hierdie teks dat daar ’n baie groter verhaal afspeel. Hierdie verhaal is nie meer net dié van Israel en God nie; dit is die verhaal van die ganse mensdom in die hele koninkryk van God. Israel is tussen al hierdie volke en nasies die uitverkore volk wat juis moet wys hoe vertroue, liefde en gehoorsaamheid lyk.
Ander volke sien af van hul gode in ’n geval van militêre nederlaag en ballingskap, maar nie die Israeliete nie. Hulle het hier die geleentheid om te wys dat hulle anders is, en hoe God anders is, deur juis nou in hul swaarkry te volhard in geloof. Hulle moet die lig van God in die wêreld reflekteer, in die goeie en in die slegte tye. So sal hulle beleef hoe hulle versterk word met nuwe krag wanneer hulle mekaar ophelp en na mekaar omsien, in stede van selfgesentreerd ineenstort van droefheid.
Mag ons deur die krag van die Heilige Gees ook ophou om sin te soek in lyding en eerder sin gee aan lyding deur mekaar te versterk met die bemoediging van God wat nooit moeg word nie.
Ds Schalk Zastron, Ermelo
