Genesis 11: 1-9; Handelinge 2: 1-4

As die Here ’n stokkie steek voor die planne van die toringbouers, het Hy dit nie teen die eendragtige samewerking van mense nie. Hy het dit teen dit wat die mense vir hulself sê oor die groot toring en wat hulle daarmee wil bereik. Nie in die groot toring wat die mense met gesamentlike mag en kundigheid gebou het, was die sonde geleë nie. Die sonde het geskuil in wat in hul koppe was, in hul bedoeling en selfdunk. Hulle wou ’n groot toring bou wat tot in die hemel reik en so vir hulself ’n groot naam maak.

Die toringbouers se sonde was dat hulle hul grense as geskapenes wou oorskry en probeer het om God te wees. In die tegniese prestasie rondom die bou van die toring gaan dit vir die bouers nie om die eer van God nie, maar om die groot naam wat hulle wil verwerf. Die toring van Babel is nie ’n bedreiging vir God se mag nie, maar ’n bedreiging vir die mense se geluk. Wanneer die Here dan die taal van die mense verwar, is sy oordeel ’n beskermingsmaatreël. Wanneer mense verteer word deur ambisie en tot elke prys hulself wil verryk en so naam wil maak, ontstaan baie vorme van kwaad.

Die toring van Babel eindig met die verstrooiing van mense. Dit is ’n mistroostige einde. Maar die Genesis 11-gebeure vind hul voltooiing in die Handelinge 2-verhaal. Met Pinksterdag, waar die Heilige Gees op die apostels uitgestort word, kom die Babelse verwarring tot ’n Bybelse eenheid. Mense praat nou nie meer oor wat hulle bereik het nie, maar oor wat God doen. Dit gaan nou nie meer oor hul groot naam nie, maar oor die Naam van God. So lei die Heilige Gees ons om God se Naam te verheerlik en nie ons eie nie.

Gebed

O, Heilige Gees, help my vandag om u Naam groot te maak en nie my eie nie. Amen.

Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort

Share via
Copy link
Powered by Social Snap