Johannes 16: 12-15
Een van Jesus se frases, Ek doen niks vanuit my eie nie. Alles wat Ek doen, doen Ek omdat Ek die Vader dit sien doen het, is die frase wat my nog die meeste aangryp. Jesus kom volledig as dienskneg, maar nie met sy oog op die mense soveel as op God nie. Wat Jesus doen en hoe Jesus dit doen, word alles bepaal deur die Vader en nie deur sy eie emosies of reaksies op ’n gegewe tydstip nie. Het jy al ooit gewonder hoe dit moet wees om God so na te volg? Deur die gawe van die Gees in ons elkeen het ek en jy ook daardie voorreg.
Ons verbintenis met God is ’n besonderse een. Ons word kinders genoem. Nie omdat ek en jy dit verdien nie, maar omdat ons die titel verkry het vanuit die prys wat Jesus deur genade betaal het. Maar, soos ons in die wêreld altyd reëls maak vir die uitsonderings, het ons begin neerkyk op mense wat sê: God het gesê…, want wie kan nou God se stem hoor? Te veel kere buit mense dit uit. Dan moet ons wel vra of Jesus dan nie gesê het dat sy skape sy stem ken nie? Is ons nie deel van God se kudde nie? Per definisie ken ek en jy dan ook God se stem.
Dit is so dat “God se stem” al heelwat gebruik is om mense uit te buit. Net soos wat leierskap nog elke dag gebruik word om mense uit te buit, en steeds stel ons elke dag leiers aan. God se stem in ons en deur ons word nie stil omdat iemand anders dit misbruik nie. Die Gees van die waarheid lei ons in waarheid en deel met ons wat die Vader sê. Dalk is dit nodig dat ek en jy weer leer om God se stem te onderskei en te vertrou, ten spyte van die wêreld se misbruik daarvan.
Ds Thomas Dreyer, Malelane
