Romeine 12: 13

Waaraan dink jy eerste as jy die woord gasvry hoor? Gesellige kuiers saam met geliefdes? Die waarde van Christelike gasvryheid behels meer as net ons eerste gedagtes daaroor. Christelike gasvryheid is veral gasvryheid aan vreemdelinge. Die Griekse woord wat in die Nuwe Testament vir gasvryheid gebruik word, is philoxenia wat liefde vir die vreemdeling beteken. Gasvryheid is dus die openheid vir ander mense in hul andersheid. Ons kan ook sê gasvryheid is die proses waardeur buitestanders van vreemdelinge in gaste verander word.

In die tyd van die Nuwe Testament en die vroeë kerk het mense dikwels gereis. Daar was wel herberge, maar hul reputasie was gewoonlik baie sleg. In die lig hiervan was reisigers afhanklik van die gasvryheid van mense wat hul huise vir hulle oopgestel het. Dié gedeelte in Romeine beskryf die gesindheid waaruit gasvryheid behoort te kom – liefde. Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla (1 Pet 4: 9). ’n Kenmerk van gelowiges is om gasvry te wees. Die hart van die saak lê daarin dat ons ander tuis laat voel vanweë die feit dat ons by God tuis kan wees.

Om gasvry te wees, vra van ons om ander te aanvaar vir wie hulle is, al sou hulle ook van my verskil. Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves (Heb 13: 2). Deur gasvryheid leef ons ’n belangrike getuienis vir die Here. Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis (Hand 16: 15). Die liefde waarmee God ons in sy teenwoordigheid ontvang, behoort die enigste kwaliteit te wees van die gasvryheid waarmee ons ander ontvang. 

Gebed

Here, die woord liefde is soms so afgesaag dat ek dit moeilik oor my lippe kry. Wys my liewer hoe om liefde te betoon deur om te gee vir ander op maniere wat hulle nie te wagte is nie. Amen.

Ds Lisa-Mari Prinsloo, Sasolburg-Suid

af
af
Deel met behulp van
Copy link