Johannes 17: 1-26

As ons wil weet waar ons prioriteite in die lewe lê, kan ons maar net gaan kyk waarvoor ons bid. Ons bid tog vir dit waarmee ons op die oomblik besig is.

Jesus se gebed in Johannes 17 is net so insiggewend. Die eerste saak wat opval, is dat Jesus se gehoorsaamheid vrywillig was. Hy was gehoorsaam omdat Hy geweet het sy gehoorsaamheid sou daartoe lei dat God Drie-enig verheerlik word. Volgens Jesus se gebed word elkeen wat op aarde gehoorsaam is aan God, self ook deel van God se heerlikheid. Jesus tree ook met volmag van die Vader op wanneer Hy die aardse deel van God se verlossingsplan tot uitvoer bring. Hierdie volmag sluit, volgens Jesus se gebed, die volmag in om aan elke mens wat in Hom glo as hul Verlosser, die ewige lewe (heerlikheid) te gee.

Die volgende wat duidelik word, is dat Jesus Homself sien as die Woord wat van God af uitgaan. Hy is die Skeppingswoord aan die begin van alles. Hy is die Woord waardeur God sy volk deur die eeue tot stand bring, lei, beskerm, teregwys en onderrig. In Jesus se gebed sien ons ook dat Hy Homself sien as die Woord wat mens geword het en as Mens die hele mensdom kom verlos. Jesus sal voortaan steeds die Woord bly waardeur God oor die heelal heers, maar nou vanuit sy verheerlikte posisie by sy Vader.

Almal wat aan Jesus behoort, hoor dan in hierdie intieme gesprek tussen Jesus en sy Hemelse Vader dat Jesus self ons beskerming waarborg. Hy beskerm ons sodat ons, wanneer die bose ons lewe op aarde moeilik maak, ons nie aan die drang sal oorgee om aan God te begin twyfel nie. Christus sal ons veilig hou en beskerm totdat ons uiteindelik, volgens God se wil, veilig by Hom in die hemel aankom.

Verder is dit ook duidelik dat die opdrag wat Jesus volgens al die ander evangeliste voor sy hemelvaart aan die dissipels gegee het, naamlik om die Woord van God verder uit te dra en mense dissipels van Jesus Christus te maak, ’n sentrale saak in God se verlossingsplan is. Daarom bid Jesus dat die mens se aandeel in die verlossingsplan ook met vrug geseën sal word. Watter belewenis! Jesus Christus, die Woord, die Verlosser, die Koning, het ook vir my gebid. Hy het gebid dat my klein aandeel in God se groot plan deur my gehoorsame diens ’n rol in ander mense soos ek, se verlossing sal speel.

Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein/Tsumeb

Share via
Copy link
Powered by Social Snap