Matteus 21: 1-11

Jesus en sy dissipels is op pad na Jerusalem. Ver buite die stad, naby Betfage, gee Jesus opdrag dat ’n donkie en dié se vul gehaal word. Waarom dan op ’n donkie ry? ’n Donkie was ’n alledaagse vervoermiddel. Baie mense het op donkies gery of vragte op hulle gelaai. ’n Donkie was ’n gewone rydier vir gewone mense. Sou ’n mens op ’n perd ry, het jy iets anders gekommunikeer. In die Bybelse tyd was dit net soldate wat op perde gery het. Iemand op ’n perd is op pad om oorlog te gaan maak of op pad van ’n oorlog af. ’n Perd sou die tipiese dier wees waarop ’n mens verwag ’n koning sou ry.

Wanneer Jesus kies om op die rug van ’n donkie in Jerusalem in te ry, kry ’n mens nie die beeld van ’n magtige koning wat triomfantelik en trots met mag sy hoofstad binnery nie. Allermins. So ’n beeld van ’n koning straal Jesus nie uit nie. Dit is presies wat die Ou Testamentiese profeet Sagaria (Sag 9: 9) voorspel in Israel sal gebeur. Sagaria voorspel dat die Messias, die ware Koning van Israel, op die rug van ’n donkie in Jerusalem sal inry. Al die Jode het geweet, hierdie is ’n teken: ’n Man op ’n donkie wat die stad binnery, Hy kan die Messias wees wat voorspel is.

Daarom dat die skare mense reageer met die loflied: Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

Hier het ons die koning en hier het ons die stad. Hoe reageer die inwoners van die stad op die koms van hierdie koning? Die mense gee tekens van eerbewys. In ons tyd sou ons ’n rooi tapyt voor Jesus oopgerol het. Die inwoners van die stad verwelkom Jesus met vreugde. Hier in die stad begin Jesus se laaste dae op aarde – dae gevul met pyn, teleurstelling, lyding, hartseer, eensaamheid en dood. Hierdie lyding van Jesus bring vir ons vergifnis van sonde. Dit bring vir ons rede tot vreugde om God te prys.

Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria / Centurion-Oos

Share via
Copy link
Powered by Social Snap