Johannes 14: 1-7
Jesus het pas vir sy dissipels gesê dat Hy weggaan en dat sy weggaan niks te doen gehad het met enige van hul persoonlike mislukkings in die verlede of die toekoms nie. Sy doel om weg te gaan, was om hul ewige toekoms te verseker.
Jesus het die metafoor van ’n “woonplek” gebruik om ons toekomstige verhouding met die Vader te illustreer. In antieke Nabye Oosterse kulture, sodra ’n bruidegom verloof was, het hy ’n vasgestelde tydperk gehad om ’n nuwe vleuel by sy gesinshuis te voeg. Dan, ná die vasgestelde tydperk, het hy teruggekeer om sy bruid te ontvang. Na die bruilofsfees het die nuwe paartjie in hul nuwe “woonplek” ingetrek en ’n integrale deel van die familie geword.
Jesus se belofte om “weer te kom”, verwys na sowel sy opstanding as die wederkoms. Jesus het die dissipels daaraan herinner dat hulle die weg na die hemel ken. Hoewel hulle nog nie verstaan het nie, sou hulle verstaan sodra die Heilige Gees oor hulle uitgestort is. Jesus sou hemel toe gaan deur middel van lyding: Getsemane, die beproewinge, geseling, die kruis, die dood, begrafnis, opstanding, en dan hemelvaart. Hy sou dit doen om die weg voor te berei vir ons eie hemelvaart.
In antwoord op Tomas se vraag, natuurlik gebaseer op ’n letterlike interpretasie van Jesus se woorde, het die Here Homself verklaar as die pad na die hemel. Deur Homself die weg en die waarheid en die lewe te noem, het Jesus drie oorheersende temas verenig wat Johannes deur sy vertelling weef. Nou is hulle verbind tot een van die eerste beelde wat Jesus in sy bediening gebruik het: dié van die Seun van die mens wat die middel geword het waardeur mense die hemel ingaan (Joh 1: 52).
Dit bring ons terug by die kernagtige opsomming van die evangelie: Christus het gesterf en weer opgestaan. Ons eie hemelvaart, ons ewige lewe by God, is alleen moontlik omdat Jesus die sonde en dood vir ons oorwin het. Mag hierdie feit nuwe betekenis aan Hemelvaart gee, want hierdie dag bevestig dat ons geloof nie op niks uitloop nie.
Ds Willem Sauer, Waterberg
