Deuteronomium 31: 1-9

Die Israeliete – na 40 jaar se ronddwaal in die woestyn – is op die punt om die beloofde land binne te gaan. Moses mag egter nie saam met hulle gaan nie en gee die leierskap oor aan Josua. Die mense is bang en onseker.

Ons sou in ’n sekere mate die vrees en onsekerheid van die Israeliete kon verstaan. Soos die Israeliete, is ons ook in ’n tussenperiode. In ons geloof staan ons tussen die tyd toe Jesus vir ons sondes gesterf het en Jesus se wederkoms. In ons lewe staan ons tussen die keuse om dit wat oud is agter ons te laat en die nuwe aan te gryp. Dis ’n vreesaanjaende besluit. Dis so vreesaanjaend omdat dit onbekend en onseker is. Die Israeliete was ook bang vir die onbekende. Hulle het geweet dat daar uitdagings sal wees wat op hulle wag in hierdie nuwe beloofde land. God se belofte dat God daar sal wees, is vir hulle genoeg en dit gee hulle die moed om die uitdaging aan te pak.

God stap ook saam met ons ’n pad en God belowe ons – net soos vir die Israeliete – dat God saam met ons sal gaan. God sal ons nie alleen laat wanneer ons ’n moeilike besluit moet neem nie. God sal ons ook nie alleen laat wanneer dit tyd is om van dit wat oud is afskeid te neem en weer te begin bou aan die nuwe nie. Wat oud is en wat nuut is, is relatief. Die punt is dat dit tyd is om die bagasie wat ons saam met ons rondsleep te laat gaan – die seer, verwyt en teleurstelling. Dit is tyd vir jou nuwe begin, en omdat God belowe het om saam met jou te stap, sal jy enige uitdaging wat jou kant toe kom met moed kan aanpak.

Ds Nastasia Vosloo-Steyn, Donegal/Molopo-kombinasie

af
af
Deel met behulp van
Copy link