Openbaring 3: 14-22
Welvaart kan ook nadelig vir die kerk wees. Dit kan mense selfvoldaan maak en veroorsaak dat hulle dink hulle het God nie meer nodig nie. Dit kan daartoe lei dat ons geestelik lou raak. Let daarop dat warm sowel as koud hier as positief waardeer word, maar dat die louheid van die gemeente God naar maak. Dit is letterlik wat bedoel word met die uitdrukking: Ek (gaan) julle uit my mond uitspoeg. Soms is dit nodig dat God hard met sy kerk moet praat.
Volgens die boodskap aan die kerk in hierdie gedeelte bestaan ware, geestelike rykdom uit drie dinge. Dit is eerstens die troos dat lyding, soos goud wat gelouter word, deel is van ’n verhouding met God. Tweedens is dit die vreugde oor die vergifnis van ons sonde wat so kosbaar is soos om wit klere te dra. Laastens behels dit die insig om ons afhanklikheid van God te besef en so van ons geestelike blindheid genees te word.
Dit is belangrik dat die kerk altyd van God afhanklik sal wees en gereeld tot bekering sal kom. Daarom laat God nooit sy kerk alleen nie. Soos met Adam en Eva in die tuin van Eden, kom soek God altyd weer na ons. Deur sy Woord en Gees klop God aan die deur van die kerk om ons te herinner dat Hy altyd daar is en besorg is oor ons. Die voordurende proses van bekering begin nie by die mens nie, maar by God wat na ons soek en aan die deur klop.
Die teleurstellende is dat die deur toe is en dat God aan die buitekant staan en nie binne die kerk is nie. Waar God egter teenwoordig is in sy kerk, verander die verhouding in ’n feesmaal. God se teenwoordigheid by sy kerk bring vreugde en intimiteit. Vir God gaan dit nie daaroor om mense te straf nie, maar eerder om mense se verhouding met Hom te herstel
Dink na:
Wat maak mense vandag selfvoldaan?
Hoe klop God aan die deur van ons harte?
Dr Gerhard Lindeque, Bybelgenootskap van Suid-Afrika