Matteus 10: 34-39

Jesus, die Vredevors, het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard en skeiding tussen huismense. Wat op aarde moet ons daarvan maak?

Huismense in die eerste-eeuse samelewing het natuurlik bepaalde maniere waarop die vrede bewaar word. Seuns bevraagteken nie hul vaders wanneer dié geld teen uitspattige rente uitleen en dan hul naaste se grond afneem wanneer skuld nie betaal kan word nie. Dogters gehoorsaam moeders wat hulle stuur om gunsies vir invloedryke mans te doen ter wille van die sosiale bevordering van die hoof van die huishouding. Broers werk in vroomheid saam om die ongewenste en onreine elemente van die samelewing uit die vergadering van gelowiges te hou. Heel vreedsaam.

Is dit soveel anders in ons tyd? Wat doen ons om die vrede te bewaar met mense vir wie ons lief is, of met wie ons bande van bloed of kultuur of selfs godsdiens het? Vra vir Oupa om nie bepaalde rassistiese woordjies te gebruik nie en kyk hoe lank duur die vrede. Vra Skoonma om nie so krities te wees oor die deurmekaar huis nie, omdat Skoondogter immers ook ’n beroep beoefen… Verdedig die menslikheid en menswaardigheid van “ons” vyande teen broer of suster of medelidmaat en aanskou die ware aard van menslike groeperinge se gewaande eenheid.

As vernietigende gebruike, onreg, haat of afguns die vrede bewaar, bring Jesus die swaard. Om daardie dinge stilswyend toe te laat omdat ons die vrede en eenheid wil bewaar, is nie liefde nie, maar intimidasie en vrees. As Christus se leringe nie sonder vrees gekommunikeer kan word nie, is die vrede en die eenheid ’n leuen. Om sulke dinge te konfronteer, veroorsaak moontlik twis of selfs vervreemding. In Jesus se geval, kruisiging. Maar Christus-liefde laat nie onreg toe sodat intimidasie en onreg as vrede voorgehou kan word nie. In God se koninkryk sny liefde vir God die bande van eenheid met groepe of gebruike wat menswaardigheid skend. Christelike liefde vir ons huismense vereis moeilike gesprekke en besluite, selfs ten koste van die vrede.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link