Lukas 23: 46b

Jesus blaas sy laaste asem uit. Stilte. Na ’n luide gebed. Stilte. Doodse stilte. Hoe anders is dit wanneer mense gebore word. Van die skemer stilte na die lig. Dan, die eerste kreet, saam met die eerste asem. Omgekeerd van sterwe. Tog sekuur op pad na ons laaste asem, die groot donker, die doodse stilte… Sowel geboorte as dood word met benoudheid, met pyn, in verband gebring.

So ook met die kerk se geboorte. Jesus se pyn en benoudheid is die geboortepyne van die kerk. Sy laaste asem word die kerk se lewensasem, ons eerste asem. Sy sterwe is ons lewe, nie net die begin daarvan nie, maar die inhoud, die wese van ons bestaan.

Die ou Doopformulier sê ons lewe is niks anders nie as ’n voortdurende sterwe. Die kerk word gebore om te sterf. Dit simboliseer die Doop: Ons sterwe saam met Christus, sodat ons opstaan met Hom tot ’n nuwe lewe. Net so is die Nagmaal deel kry aan sy sterwe. Saam sterf, maar dan aan onsself, ons eiebelang en selfgesentreerdheid, sodat ons kan leef ter wille van God en medemense, danksy Christus. Die kerk word gebore om te sterf sodat ons werklik kan leef. Ons kan dus eers werklik leef nadat ons gesterf het. Self kan ons nie dit vermag nie. Daarvoor het ons ’n Verlosser nodig. Een wie se sterwe ons daartoe bevry om aan onsself te kan sterf, sodat ons kan lewe. Elke dag. Van die donker na die lig. Pynlik bevry tot lewe. Van stilte tot spreke, tot verkondiging van sy sterwe, wat ons lewe is. Sterf gereeld só, en leef waarlik!

Die Doopformulier praat daarvan dat ons hierdie lewe, wat ’n voortdurende sterwe is, om sy ontwil getroos sal verlaat, menende danksy Christus se sterwe. Sterwe is nie meer die groot donker, die ewige stilte, die absolute eensaamheid nie. Sterwe is vir ons soos om weer gebore te word. Om deur die donker te beweeg na die Lig, na Hom wat ons Lewe is.

Gesang 511: 1-2

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link