Psalm 15

Oorspronklik was Psalm 15 waarskynlik ’n wysheidspsalm oor hoe gelowiges behoort te leef. Later is dit gebruik as ’n liturgie vir toetrede van pelgrims tot die heiligdom waar God “woon”. Die Psalm begin met ’n vraag van pelgrims aan die priester wat poortwag is oor die vereistes vir toegang tot God. Anders gestel: Hoe moet ’n mens se gesindheid wees, en watter optrede is gepas en watter nie?

Die priester antwoord uitvoerig met tien vereistes. Wie tot God nader, moet aktief doen wat reg en goed is en nie verkeerde dinge doen nie. Die eerste algemene vereiste word gekwalifiseer deur die tweede en derde vereistes. Reg wees, reg praat en reg doen. Dit word bevestig met drie negatiewe stellings: nie verkeerd praat (letterlik: “oor sy tong struikel nie”) en verkeerd doen nie. Die sewende vereiste is dat die pelgrim iemand moet wees wat die volhardende kwaaddoener verag, maar die getroue dienaars van die Here respekteer. Dit behels ook die vermyding van kwaaddoeners se invloed en die blootstelling aan die positiewe invloed van God se dienaars. Die agtste vereiste handel oor die getroue nakoming van beloftes, veral in terme van die verbond met God, naamlik beloftes om te doen wat reg is, al kos dit wat. Die negende vereiste behels dat geld nie aan medegelowiges op rente geleen mag word nie. In daardie brandarm gemeenskappe kon armes nie rente bekostig nie en sou daardeur verder verarm word. Laastens mag pelgrims toegang verkry mits hulle nie omkoopgeld aanvaar om die reg te verdraai deur vals te getuig of die reg te verdraai en so onskuldiges te benadeel of selfs skuldig te laat verklaar nie. Dan spreek die priester oor sulke pelgrims wat toegelaat word ’n seën uit: Hulle sal nooit wankel nie.

Psalm 15 wys ons steeds om reg te leef voor God en dat dit baie belangrik is. Ons doen dit egter nie om toegang tot God te kry nie. Dit het Christus eens en vir altyd vir ons verwerf. Nou probeer ons dankbaar reg leef.

Gesang 167: 1-2

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link