Psalm 29

Wanneer die Here verskyn, heers hy bo-oor magtige waters! Mense kan magteloos wees teen ’n magtige vloed. As die seisoen ’n oorvloed reën bring, en die riviere word voller en voller en bars deur hul grense, en die snelweë word riviere, en modderstortings laat huise omval en wegspoel, en groot lewensverlies dreig, kan ons nie onderhandel met die watermassa nie. Ons is magteloos. Dit is te groot vir ons om teen kragte te meet!

Die televisienuus vertel en wys ons dat dit dikwels gebeur in verskillende lande. In China, Indonesië, die Filippynse eilande, in moderne Europa kan dit gebeur, in Suid-Amerika is daar dikwels vloedrampe, in Noord-Amerika kom die vloedramp dikwels saam met ’n megastorm, ’n orkaan of ’n tifoon wat alles verwoes wat in sy pad kom. Maar die groot, verwoestende watermassas kom ook nader aan ons eie huis: Dink maar ver terug aan ’n groot vloed wat in 1981 groot skade en dood in die droë Karoodorp Laingsburg gebring het … 104 mense is dood, 75 van hulle se liggame is nooit gevind nie! Gesteel deur die watermassa. Die meeste van die huise in die dorp is deur die chaosmag vernietig. Meer onlangs die vloede in KwaZulu-Natal – 480 mense uit hul gewone roetine geruk na hul dood, en 40 000 mense dakloos gelaat, En tussen 1981 en nou, hoeveel mense het hul lewens en sekuriteit verloor aan vloede!

Al wat ons kan doen as ons deur so ’n watervloed bedreig word, is om te vlug so vinnig as wat ons kan, en na die Here te kyk vir hulp. Want dit is Hy wat die weer laat dreun, Hy is self op die groot waters! Meer nog, Hy heers as koning en regeer oor sy kinders, oor sy skepping, oor plante en diere, en oor geweldige watermassas. Hy tem die waters, stel grense daarvoor bo en onder die aarde, en in riviere wat lewe moontlik maak. Laat ons ontsag hê vir Hom wat alles gemaak het en dit in sy hand hou. Laat ons ontsag hê vir sy skepping wat baie groter is as wat ons kan beheer.

Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid

Share via
Copy link
Powered by Social Snap