Genesis 22: 6-12
Ons elkeen vorm ons eie beeld van God aan die hand van ons eie geloofservaring, maar ook deur dit wat ons lees, hoor en sien in die wêreld en by mense rondom ons. Hierdie beeld van God word daarom nie net een keer gevorm en laat staan nie, dit verander dikwels soos wat ons God leer ken en ontdek in die wyse waarop God aan ons geopenbaar word. Ons kan vir mekaar sê dat ons prentjie van God nooit klaar geskets word nie.
In hierdie teks van Genesis 22 lees ons die verhaal van Abraham wat vir Isak moes gaan offer. Dit is ’n gedeelte wat ons goed ken, en die gehoorsaamheid van Abraham gryp ’n mens aan. Maar watter invloed het hierdie verhaal op Abraham se Godsbeeld, en selfs ons eie Godsbeeld? Met God se ingrype in Abraham se offer en uitvoering van die opdrag, openbaar God aan Abraham ’n belangrike deel van hul verhouding. God wys vir Abraham dat hierdie verhouding nie gaan wees soos wat godsdiens elders werk nie. Hier word hul verhouding nie gebou op vrees nie, want God eis nie die lewe van Isak om voorspoed en seën aan Abraham te bewys nie.
Vir Abraham word ’n Godsbeeld nou geskep van God wat nie terugeis wat God uit genade gee nie. God verwag nie van Abraham om sy seun te offer soos wat in baie ander godsdienste van daardie tyd gedoen is nie. God is anders, en die beeld wat Abraham en sy nageslag van God het, moet daarom ook verander. Hulle gaan nie weer ’n godsdiens beoefen soos aan die ander kant van die Eufraat nie, hul verhouding met God is nou anders. So sien ons dan van Genesis tot Openbaring dat die beeld van God gegrond word in liefde. En sover daardie offerkultuur gaan, sien ons ook dat God nie van ons vra om ons kinders te offer nie, maar dat God ons so liefgehad het dat Hy sy unieke Seun gegee het (Joh 3: 16, AFR2020).
Miskien moet ons ook onsself weer vra: Hoe sien ek vir God?
Ds Schalk Zastron, Ermelo