Esegiël 37: 1-14

Hoofstuk 37 is deel van die tweede helfte van die boek waar die opbou en herstel van Israel aangekondig word. Hoop vir ’n hooplose en hulpelose volk. Israel sou sekerlik hulself kon afvra wat dit is wat God van hulle as sy volgelinge verwag.

God sal Israel weer lewend maak. Ja, God sal hierdie skynbaar dooie mense nuwe lewe gee, want Hy het hulle gekies. Die huis van Israel is vernietig en op sy knieë gedwing, hulle verkrummel in die aangesig van die heidendom. Hulle is kurkdroog…  en God sien dit raak. Hy tree in en Hy gee lewe! Fisies sowel as geestelik.

Wanneer ons in die Koninkryktyd in beweging gekom het, moet ons in beweging bly! Ons moet hoop verkondig omdat ons daardie hoop het, omdat die evangelie van Jesus Christus daardie hoop in ons plaas. Daarom keer die gelowige Sondag terug na die erediens om opnuut van hierdie hoop verseker te word. Die energie van die evangelie bring ons in beweging. Die beweging mag nooit verflou nie.

Die belofte van Esegiël 37 begin reeds in Esegiël 36: 25-27. God beloof algehele vernuwing vir ’n volk wat mistroostig is. Hoeveel te meer nie vir ons ook nie! Is ons bereid dat God die doodsheid in ons in lewe verander? Christus verander die doodsheid van ons omstandighede wanneer ons soos dooie bene rondlê en onwaardig voel. Wanneer God lewe bring, weer lewe in dooie bene inblaas, word ons deel van sy leërskare wat werksaam is en werksaam moet bly in sy koninkryk! Dan is die lewe wat ons leef, die lewe van die evangelie waardeur ander “dooie bene” ook weer die hoop kry dat God lewe bring!

Gebed

Vader, bring ons in beweging wanneer ons met u hoop in aanraking kom. Skep in ons die hoop om te volhard, om uit die doodsheid van ons omstandighede op te staan en die lewe te leef wat U gee. Amen.

Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes

af
af
Deel met behulp van
Copy link