Hebreërs 4: 1-11

Die vroeë Christene het ’n spoedige wederkoms verwag, nog tydens hul leeftyd. Die tweede geslag Christene het dit noodwendig anders begin verstaan. Die einde breek aan wanneer jy sterf. Dis hoekom ons tans in ’n permanente grenssituasie leef, op die rand van die ewigheid.

Christus se koms – sy sterwe, opstanding en hemelvaart – het ’n einde gemaak aan die geskiedenis soos ons dit ken. Hy het in hierdie gebroke bedeling die hoop by ons kom wek van iets beters hierna, van ’n rus wat ons mag ingaan. Hierdie hoop is stewig in die Christusgebeure geanker. Al leef die mens dalk nog vir miljoene jare op aarde, het Christus se koms ons op die rand van die ewigheid geplaas. Die ewigheid loer nou om elke hoek en draai vir ons.

Die kerk se prediking is gerig tot mense wat vreemdelinge en bywoners op aarde is. Ons gryp vooruit na dit wat in die toekoms lê, maar die toekoms is nog nie hier nie. Ons is bewus van twee werklikhede wat gelyktydig bestaan, die een sigbaar, die ander onsigbaar. Die Hebreër-brief leer ons die enigste manier om aan die belofte van rus deel te kry, is deur geloof, volharding en gehoorsaamheid. Ons lidmaatskap van die kerk is nie ’n waarborg dat ons die rus sal ontvang nie.

God vra van ons elke dag ’n keuse: Kies vir geloof, volharding en gehoorsaamheid. Wees toegewyd en beywer jou daarvoor om hierdie rus waarvan die Hebreërbrief praat, in te gaan.

Gesang 588: 2-3

Ds Petri de Kock, Pierneef

af
af
Deel met behulp van
Copy link