Handelinge 2: 42-47 

Die gemeenskap van die eerste gemeente in Jerusalem word beskryf met woorde soos gemeenskap, saam, gemeenskaplik, eensgesindheid.

Petrus se woorde het die aanhoorders diep geraak. Hulle wou dadelik weet wat hulle moes doen om aan die oordeel van God te ontkom. Oordeel wat op hulle rus vanweë hul aandeel aan die dood van Jesus Christus. Bekeer julle en laat julle doop; dan, sê Petrus, sal die gevolg wees dat jul sondes vergewe word, en julle sal elkeen die Heilige Gees as gawe ontvang. Dit wat Petrus vir hulle sê, geld vir elke gelowige nie-Jood ook, en vir elke geslag daarna. Daarop kan ons ook aanspraak maak!

So kry ons ’n opsomming van die leefwyse van gelowiges in die gemeente van Jerusalem. Kenmerkend is hoe hulle dit wat hulle in die verkondiging gehoor het, toepas op hul leefwyse. Gelowiges, Jode wat nie hul rug gedraai het op die Israelitiese godsdiens nie. Hulle dien steeds die God van hul voorvaders, die Een wat Hom openbaar in die geskiedenis. Daarom gaan hulle steeds elke dag na die tempel om op die vasgestelde tye te gaan aanbid. Maar hulle kom ook byeen in hul huiskerke en hulle eet elke dag saam. Hierdie maaltye was eintlik ’n sigbare teken dat hulle regtig aan die opgestane Here en aan mekaar verbonde was. Die eenvoud en die toewyding waarmee die gemeente God en mekaar gedien het, het die verbeelding van Jerusalem aangegryp. Die gevolg? Elke dag was daar bekeerdes. Hoe die gelowiges gelewe het, was getuienis van die verandering wat Hy in mense se lewens maak.

Wil, o Heer, in genade voortgaan met u reddingswerk;

leer ons ons talente dankbaar U te wy en aan u kerk.

Deur die waarheid van u lering, deur die wonder van bekering,

dring u liefde ons al meer in u diens te staan, o Heer.

(Gesang 487: 3)

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

af
af
Deel met behulp van
Copy link