Johannes 4: 1-38

Ons het almal daardie gedeelte, hier diep in ons binneste, wat ons vir die res van die wêreld weggesteek hou. Ons wil nie noodwendig ’n lig daarop skyn nie, want dalk is dit iets waaroor ons skaam is. Ons is moontlik bang dat die lig se glans die seer net nog seerder sal maak. Ons kan hierdie gedeelte van ons binneste ’n wond noem.

Hierdie wonde gee vir ons ’n vreemde energie. Dit bring ons in beweging, want ons glo ons moet voortdurend ons waarde vir die wêreld wys. Die ander moontlikheid is dat ons so hard probeer om die wêreld te oortuig dat ons wonde nie bestaan nie. Ons soek moontlik ook maniere om hierdie wonde te genees deur die liefde en aanvaarding van ander op te soek.

Is dit nie wat met die Samaritaanse vrou by die put gebeur het nie? Hoekom gaan sy om 12:00 (op die hitte van die dag) put toe om water te skep, terwyl die ander vroue van die dorp dit waarskynlik in die koel vroegoggend gedoen het? Ons weet sy het reeds vyf mans gehad, maar hoekom, weet ons nie. Waarskynlik was sy die slagoffer van die wette en gebruike van haar tyd. In kort kan ons aflei dat die vrou ’n wond saam met haar dra. Miskien wou sy die skindertonge van die dorp vryspring deur op die warmste tyd van die dag water te gaan skep?

Dit werk nie vir haar uit nie, want sy ontmoet Jesus by die put, en Hy bied vir haar lewende water aan wat haar dors vir ewig sal les. Wanneer sy van die water soek wat Jesus vir haar aanbied, raak Hy die wond waarmee sy geloop het direk aan: Jesus vra na haar man.

Dalk is dit toe al die tyd nie die put wat ons dors kan les nie, maar eerder die wete dat ons geliefd is en in genade deur die Here aangeneem is. Dit vertroos, dra en genees ons. Mag dit vir elkeen van ons so wees!

Ds Steve Oxton, Wapadrant

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap