Johannes 20: 1-18
Maria Magdalena kom Sondag met eerste lig by die grafkelder waar Jesus die Vrydag ter ruste gelê is. Die swaar ronde klip wat die ingang van die grafkelder toegemaak het, is weggerol. Sy het waarskynlik ingekyk en gesien die graf is leeg! Toe hardloop sy…
Sy hardloop om vir twee dissipels te gaan sê dat iemand die Here weggevat en elders gaan begrawe het. Wie was hierdie twee dissipels? Simon Petrus en die lieflingdissipel, waarskynlik Johannes, die Evangelieskrywer self. Hierdie nuus van Maria was soos ’n afsitterspistool. Petrus en Johannes spring weg en hardloop. Dit was ’n gelyke wegspring. Maar Johannes was vinniger en het eerste by die graf aangekom. En Maria? Sy het seker ook gehardloop, maar onthou, sy het pas die hele pad gehardloop om die twee manne die ontstellende nuus te bring.
By die graf is dit Petrus wat eerste inspring om te kyk wat aangaan. Johannes het vooroor gebuk, gekyk en net die doeke sien lê. Toe Petrus ingaan, sien hy ook die doeke, maar nog meer, ook die doek wat oor Jesus se kop was. Johannes het daarna ingegaan, dit alles gesien en geglo. Daarna het die twee dissipels huis toe gegaan en die huilende Maria by die graf gelos. Op merkwaardige wyse word daar vertel hoe Maria uiteindelik vir Jesus eien, die gesprek wat plaasvind en Jesus wat haar met ’n bepaalde boodskap na sy broers toe stuur. By hulle aangekom, was haar eerste woorde: Ek het die Here gesien!
Wie sou die wenner daardie Sondagmôre wees? Johannes was eerste by die graf maar het nie soos Petrus ingegaan nie. Maria kom laaste maar kies om agter te bly en sodoende oneindig meer as die terugkerende dissipels te vind. As ek moet kies, sal dit Maria wees, maar dan tegelyk kwalifiseer – dat almal wat in die opgestane Heer glo, wenners is. Mag ons ook soos Paulus getuig: …ek het die wedloop voltooi, ek het die geloof behou. Nou wag die oorwinningskrans … op my (2 Tim 4: 7-8, AFR2020).
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege
