Psalm 85
Nadat die volk van die Here vir 70 jaar in ballingskap was in Babilonië, het die tyd uiteindelik aangebreek dat die Here hulle daarvan sou verlos. Toe die volk van die Here ná hul tyd in ballingskap teruggekeer het na Jerusalem, het hulle dadelik begin om die nuwe fondasies vir die tempel te lê. So het hulle ook probeer om die mure van Jerusalem te herbou, maar dit was moeilike werk, en dit het ook nie gehelp dat hul vyande die bietjie wat hulle gevorder, verwoes het nie. Mettertyd is die bou van die muur ook gestaak. So het hierdie hoop en verwagting wat hulle met die terugkeer gehad het, vinnig tot niet gegaan.
Dan wonder ’n mens: Wat staan hulle te doen in hierdie omstandighede? As ons Psalm 85 teen hierdie agtergrond lees, sien ons hulle het gebid tot die Here en gewag vir Hom om hul gebede te beantwoord. En die antwoord op hul gebede was die profeet Nehemia. Hy het hulle aangemoedig om die muur, te midde van teenstand, te herbou.
Psalm 85 is ’n voorbeeld van ’n gebed in tye van swaarkry. Die eerste ding wat die skrywer gedoen het om die swaarkry te oorkom, was om terug te dink aan die Here se goedheid in die verlede. Soos die Here in die verlede was, so is Hy ook vandag, en so sal Hy ook in die toekoms wees. Wanneer dinge vir ons ook te veel word, wanneer dit vir ons voel asof daar nie uitkoms is nie, asof die Here ons in die steek gelaat het, moet ons net vir ’n oomblik terugdink aan die Here se goedheid.
Rondom vers 10 kom die skrywer tot die gevolgtrekking: Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien: Hy sal sy reddende mag … openbaar. Die Here het sy reddende mag alreeds aan ons geopenbaar. Dit is die reddende mag wat Hy daar aan die kruis aan ons geopenbaar het. Daar waar sy Seun gesterf het, sodat ons sonde vergewe kan word, sodat die heerlike toekoms wat Hy vir ons beloof het, ’n werklikheid kan word.
Ds Marsulizé van Niekerk, Upington
