Psalm 78: 1-8

’n Martelaar is ’n getuie wat ook vir die evangelie ly. Martelaarskap in die tyd van die Nuwe Testament lyk heelwat anders as vandag. Vandag sou ons miskien eerder wonder of ons kinders en hul kinders gelowiges gaan wees. Ek kan nie eintlik onthou wanneer ek kind van die Here geword het nie – my ouers is gelowiges en ek weet hul ouers was ook. Miskien sou ons dit kon voorstel met veters wat met hul punte aan mekaar vasgeknoop is. Vandag is dit nie meer so ’n gegewe nie. Kinders is nie meer gelowig omdat hul ouers gelowig is nie. Die wêreld het te veel verander. Sal ons kinders en hul kinders die Here ken en op Hom vertrou?

In die tyd toe die Psalm geskryf is, was verhale belangrik – dit was die enigste manier waarop inligting behoue kon bly. Deur verhale het hulle ook vir God leer ken. Dit het deel gevorm van hul identiteit. Die Psalmdigter gebruik nie ’n klomp feite uit ’n geskiedenisboek, of ’n stel reëls wat nagekom word nie. Hy gebruik ’n verhaal wat bestaan uit waarnemings, waarskuwings en voortdurende versekerings van God se genade en liefde. Hieruit kon kinders leer wie God is en hoor en sien hoe God sy kinders in die verlede beskerm en versorg het. Die verhale was vervleg in hul daaglikse lewe.

Indien ons daarop staatmaak dat ons kinders gelowiges gaan wees net omdat ons gelowig is, gaan daar iewers ’n geslag wees wat nie gaan weet nie. Iewers gaan die knoop wat die toue bymekaar hou losgaan en gaan kinders nie die liefde van die Here ken nie. Maar wanneer ons verhale en ons lewe met die verhaal van God en sy liefde vir ons vervleg is, is daar eenvoudig nie ’n manier waarop die kinders dit sal mis nie. Iewers gaan daar raakpunte wees. Iewers gaan hulle die liefde van die Here raakloop in die mense rondom hulle se verhale en lewens, en gaan hulle weet hulle kan op die Here vertrou.

Ds Elmien Shaw, Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link