1 Johannes 5: 5-8

Bloed is dikker as water. Dié uitdrukking wil sê: Familie is belangriker as vreemdelinge. Maar eintlik beteken die oorspronklike presies die teenoorgestelde. Die “water” het na vrugwater verwys. Dit is die water van geboorte, liggaamlike verwantskap. Die “bloed” het verwys na die band tussen mense wat nie familie was nie, maar saam in ’n oorlog of stryd was, waar die bloed vloei, ’n kwessie van lewe en dood. ’n Gewonde makker word nie in die steek gelaat nie, maar ten alle koste gered. Die natuurlike band deur water is sterk, maar die bloedband is sterker. Dit is die band van saam stry in lewensbedreigende omstandighede, lewens red en saam oorwin.

Die Johannes-brief vra: Wie het die wêreld oorwin? Ons verwag die antwoord: Jesus. Maar die antwoord is: Jy. Die een wat glo dat Jesus die Seun van God is, is die oorwinnaar. Die Griekse woord vir oorwinning is nike, waar die naam van die hardloopskoene vandaan kom. Jy wat glo, is deel van die eenheid wat die oorwinning behaal. Dit is die eenheid van water, én bloed, én Gees.

Die geboorte deur water vier ons met Kersfees. Jesus is ons mens-broer, op die water-manier aan ons verwant. Ook op die bloed-manier is ons verwant, en bloed is dikker as water. Deur die oorlog en stryd van hierdie lewe, is ons kamerade. Almal raak verwond. Jesus, ons kameraad in die stryd, laat ons nie in die steek nie. Hy gee sy lewe en bloed om ons te red en na veiligheid te bring waar ons sorg en hulp kan ontvang, kan genees en kan lewe. Deur water en bloed deel ons in die oorwinning, die nike. Daarvan getuig die Gees. Die Gees getuig ook van die band van eenheid wat ons saam bind: die band van water en bloed. So wil ons ook met ons lewe getuig van die eenheid. Daardie getuienis is liefde. Jesus is die oervoorbeeld van wat die liefde is: Só lyk dit en dít is wat liefde doen.

Prof Yolanda Dreyer, Universiteit van Pretoria / Nederlandssprekende Gemeente

af
af
Deel met behulp van
Copy link