Lukas 2: 8-14
In die antieke wêreld was skaapwagters nie gesiene mense met groot status nie. In ’n wêreld waar konings met God kon praat, profete op berge en heilige priesters in die tempel, sou eenvoudige skaapwagters die laaste mense wees wat jy verwag om ’n boodskap by God te kry. Skaapwagters het maar eenvoudige lewens gehad. Hulle het saam met hul skape geleef, en het maar ’n dag-tot-dag-bestaan gevoer. Hulle het nie regtig ’n groot stem in die samelewing gehad nie en was maar op die rand van die samelewing.
Tog besluit God om aan hierdie eenvoudige skaapwagters te verskyn. Die hemele bars oop vir hulle met die aankondiging: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! Ek is seker dit moes vir hulle ’n asemrowende belewenis gewees het, maar diep in hul gemoed sou die vraagteken by hulle opkom: Hoekom sou God nou juis aan ons verskyn?
Die antwoord lê in hierdie einste aankondiging van God. God beklemtoon die woorde: Vir julle is die Verlosser gebore. Dit is ’n hoendervleisoomblik, om te besef dat die aankondiging nie net bedoel was vir die mense wat groot status of aansien gehad het nie. Hy kom na hierdie aarde vir selfs die eenvoudige skaapwagters. Dit sou hulle wees, hierdie eenvoudige mense, wat die Christus in ’n eenvoudige krip sou vind.
As daardie eenvoudige skaapwagters die lofsang van vrede op aarde hoor, dan lê die gedagte ook in hul gemoed: Hierdie vrede is ook vir my. Dit wys ’n mens op die wonderlike genade dat Jesus se koms ook vir jou bedoel is. Elke mens in wie God ’n welbehae het, van sterrekyker tot skaapwagter, ontvang die belofte van vrede op aarde.
Ds Juan de Beer, Parys
