Lukas 1: 39-41

Nadat Maria gehoor het dat sy ’n seun in die wêreld sal bring, het sy sonder versuim na haar familielid Elisabet in die bergstreke van Judea gegaan. Dis nie sonder rede dat van hierdie besoek aan Elisabet en haar man Sagaria vertel word nie. Hierdeur wil Lukas aan ons oordra dat die geboorte van Jesus terugverwys na die wonderdade van God wat Hy al in die verre verlede vir sy volk gedoen het.

Sagaria en sy vrou Elisabet herinner ons aan die aartsvader Abraham en sy vrou Sara. Abraham en Sara was ook kinderloos en was ook reeds op hoë ouderdom toe hulle gehoor het dat hulle ’n kind van die Here af sou kry. Boonop was Sara net soos Elisabet onvrugbaar. Tog het hulle ’n kind van die Here ontvang.

Maria self herinner ons ook aan ’n ander vrou in die verre verlede van die volk Israel se geskiedenis, naamlik Hanna. Sy was ook aanvanklik kinderloos, maar word die jubelende moeder van Samuel, die profeet van die Here. Sowel Hanna as Maria jubel oor hul kind wat hulle van die Here ontvang het.

Lukas wil egter nog verder gaan om die bedoeling van Jesus se geboorte met die geskiedenis van Sagaria en sy vrou Elisabet te verbind. Hy wil Jesus se koms na die wêreld so verbind aan die groot verlossing van die volk Israel uit Egipte, waarvan ons in die Eksodusverhaal lees, daar in die tyd van Moses en Aäron. Dit is nie toevallig nie dat Elisabet, die vrou van die priester Sagaria, dieselfde naam dra as die vrou van die priester Aäron, ook Elisabet (of in Hebreeus: Eliseba), en dat sy ook afstam van die dogters van Aäron.

So lig Lukas die ooreenkomste uit tussen die gebeure by Jesus se geboorte en gebeure reeds in die vroeë geskiedenis van die volk Israel, om daarmee te sê dat Jesus se koms al daarin vooruit gesien kon word. Hy beklemtoon die groot wonderdade van God wat deur al die eeue besig is om sy volk en die mens op aarde te verlos en heel te maak.

Ds Arie Kuyper, Villieria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link