Psalm 104

In ons gejaagde lewe het ons min tyd om bewus te word van God se skepping, wat nog te sê van God self! Tóg is dit die een plek waar ons altyd getref word deur God se grootheid en bewus word van sy teenwoordigheid. Onwillekeurig dink ’n mens aan die mooi gedigte in die boek Job waardeur Job bewus geword het van sy eie nietigheid en God se grootheid (Job 38-42).

Ons het gister een van die Skeppingspsalms gelees. Psalms 148 en 104 is ook sulke Psalms.

Psalms 8, 148 en 104 bied drie verskillende (maar nie onversoenbare) sienings aan van die plek en rol van die mensdom binne die geskape wêreld. In Psalm 8 is die mense die heersende wesens. In Psalm 148 bied die mense hul lof aan God saam met ander wesens sonder om die meerdere te wees. In Psalm 104 is die mense prysende wesens, maar selfs meer duidelik as in Psalm 148 neem hulle hul eie nis in beslag. Hulle is nie afgesonder van ander wesens nie en elkeen het hul eie spesifieke rol.

Psalm 104 is ’n verwondering oor God se grootheid, hoe Hy voorsien en die geskape lewe versorg. Alle wesens het ’n intrinsieke waarde en is onderling afhanklik van mekaar. Die menslike rol is om die res waar te neem, om in verwondering uit te roep oor die veelheid en onderlinge verbondenheid daarvan. Die mens erken die Goddelike wysheid wat oral in die wêreld voorkom. God blaas sy asem en nuwe generasies ontstaan (vers 30). Dit dui op ’n voortdurende skepping. Die gedig beeld so mooi uit hoe die hele skepping saam met God asemhaal, maar ook as gevolg van Hom asemhaal.

Binne God se skepping het ons een doel: Leef wys en regverdig, in gehoorsaamheid aan die Skepper en in harmonie met die hele skepping, want God hou alles in stand, maar ons is ook onderling afhanklik van mekaar. Daagliks sien ons hoe die mens se hebsug die natuur verniel. Ons is medeverantwoordelik om dit in stand te hou. Dit is immers waar ons God raakloop.

Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap