Markus 15: 16-20 

Al ooit gewonder hoekom ons die misteltakkie met die rooi bessies aan die Kersboom sit? Daar is seker baie redes en baie stories wat ’n verduideliking probeer gee vir die mense se besluit om hierdie misteltakkie en rooi bessies elke jaar aan ons Kersbome te hang. Eenvoudig gestel, is dit die storie agter die storie: Die doringagtige blare herinner ons aan die doringkroon wat Jesus moes dra. Die rooi bessies simboliseer sy bloed. Dit is dalk baie vereenvoudig, maar dis tog ’n verduideliking wat kinders mooi verstaan.

Wanneer ons na die krip kyk en ons kyk na die kruis, sien ons nie net simbole nie, maar die wonderlike genade van God. Genade en liefde onverdiend. Jesus het sy lewe vir ons afgelê sodat ons die ewige lewe kan hê. Daarom kan ons vandag weer aan daardie dag dink toe Jesus aan die kruis gehang het en vir ons sondes gesterf het. Ons kan ons hande saamslaan in gebed.

Rondom die krip en die kruis lê sakke en sakke vol genade. Laat ons uit dankbaarheid daarvoor leef soos Jesus ons geleer het en altyd sy hande en voete in ’n honger, soekende wêreld wees.

Die krip herinner ons aan God wat mens geword het en onder ons kom woon het. Die kruis verseker ons van ons verlossing. Laat ons dan in hierdie tyd nie net Jesus se geboorte onthou nie, maar ook sy lyding, sterwe en opstanding!

Gesang 350

Ds Maritza Oosthuizen, Belfast/Waterval Boven

af
af
Copy link