Lukas 5: 8

Die groot klomp vis wat hulle vang wat alle menslike maatstawwe oorskry, dui op die gawe wat God gee – Hy gee Homself in ons wêreld met sy frustrasies en terugslae, en gee daarmee die heil.

’n Sondige mens verstaan homself as iemand wat vir homself moet leef, wat uit eie krag die lewe wil verwerf. Maar daardeur kom hy juis onder die mag van die sonde, verloor hy homself en word hy aan die dood uitgelewer. Soos vir Simon Petrus hier, is dit eers die heil wat ’n mens bemagtig om sy eie onheil in te sien. Net die mens wat sy lewe ontvang, het die moed om sy eie dood in die oë te kyk.

Simon Petrus kla homself nie aan oor dit of dat wat hy verkeerd sou gedoen het nie. Sy sonde is eerder die lewe van iemand wat sy nette in die nag uitgooi waar niks te vang is nie. Iemand wat sy lewe bou op sy eie werke en homself so van God afskei om iets uit eie krag te wees. Wie deur die woord van Jesus Christus teruggelei word, só dat die heilsame gaping tussen mens en God oopgaan – dit is hy wat sê: Gaan weg van my af, Here. Daarmee sê hy nie ek wil niks met U te doen hê nie, maar: U kan U seker nie met my inlaat nie. Waar die gaping tussen mens en God so oopgaan, word dit ook dadelik oorbrug. Daarom sê Jesus vir Simon: Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang. God wil met so ’n sondaar te doen hê. Juis so is hy of sy bruikbaar. As iemand by wie God se woord so ingang vind, sal dit nie anders kan nie, hy of sy sal ’n visser van mense wees.

Wie sleg is, maak Hy nuut – ’n mens

wat Hy met vrug gebruik.

(Gesang 484: 4)

Dr Piet Boshoff, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link