Johannes 3: 16-17

Ons ken seker almal Johannes 3: 16: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Hierdie vers staan voor in die Bybeltjie wat baie van ons een oggend in die saal by die skool gekry het. Menige jongmens moes dit op kerkkampe opsê as bewys dat jy bekeer is. Hierdie vers is so geliefd en bekend omdat dit so troosryk is. Hoe wonderlik is dit nie om te hoor dat God jou so liefhet dat Hy sy Seun gegee het om in jou plek te sterf!

Die woord wat hier met liefde vertaal word, is agape. Dit is nie ’n woord-liefde, ’n blote sê dat iemand vir jou lief is nie; nee, dit is ’n daad-liefde. Liefde wat tot die daad oorgaan. Die daad wat God aan ons bewys het, is om sy Seun te gee sodat ek en jy kan lewe. God het dit nie net gesê nie, Hy het dit bewys toe sy Seun jou sonde op Hom geneem het en in jou plek aan die kruis gesterf het. Daar staan in werklikheid dat Hy sy eniggebore Seun gegee het in jou plek. Hy het Iemand kosbaarder as wat jy jou kan voorstel in jou plek gegee!

Ons leef in ’n wêreld waarin ons nie die toekoms kan voorspel nie, ’n wêreld wat verlede jaar in ’n oogwink vir ons verander het. Vir ons is dit goed om te weet dat God daar is, en dat God jou so liefhet. Watter groter troos kan ek en jy kry as juis dit? God het jou so lief.

Die meeste mense ken hierdie teksvers baie goed, maar die volgende vers kan bitter min mense uit hul koppe vir jou opsê. In vers 17 lees ons: God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Juis hierin lê ons troos.

Ds Willem Sauer, Waterberg

af
af
Deel met behulp van
Copy link