Matteus 10: 25-31

Dalk het jy ook al gewonder: Maak ek saak? Ons vrees dit om nutteloos te wees en niks vir iemand te beteken nie, om daardie nul op die kontrak te wees. Ons vrees om deur hierdie lewe te kom en te gaan sonder dat iemand ons raakgesien het.

Daarom pla dit ons as ’n vriend vergeet om ons op ’n belangrike datum te bel. Dit pla ons as ’n onderwyser of ons dominee ons naam vergeet. Dit bevestig ons diepste vrees: Niemand gee om nie. Om hierdie rede verlang ons en smag ons na die aandag van ons lewensmaat, of die erkenning van ons baas, of noem ons die name van belangrike mense in gesprekke, of dra ons spesiale ringe aan ons vingers.

Met die sagste woorde wat van omgee getuig, verlig Jesus die vrese van elke mens wat identifiseer met die nikswerdgevoel. Jesus maak gebruik van twee beskrywende metafore om ons waarde voor God duidelik uit te spel: die waarde van ’n mossie, en die detail van ons hare wat deur God getel is.

Vir my en jou is ’n mossie eintlik doelloos. As hulle nie deel van ons lewe is nie, gaan ons hulle nie mis nie. Mossies is goedkoop, soms sommer gratis. Eintlik niks werd nie. Maar hoe sien God daardie selfde mossie wat ek en jy nie eens meer raaksien nie? God vergeet nie die mossie nie. Hy sal nie een op die grond sien val buite sy wil nie. Eintlik vra Jesus: As Ek en my Vader soveel omgee vir ’n mossie wat vir die mens niks werd is nie, hoeveel te meer gee Ons nie vir jou om nie? Jy maak saak – al dink en glo jy dit nie!

Wie hou boek van haarvaatjies? Ons hou boek van die hoeveelheid geld in die bank; petrol in die tenk; kilogramme op die skaal; maar hare? God doen dit wel. Van jou is selfs die hare op jou kop almal getel. Jy is baie spesiaal vir jou Skepper!

Ds Jimmy Manders, Witfontein

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link