Romeine 8: 26-27
Dit is vir my altyd aangrypend hoe sensitief honde vir emosie kan wees. In tye toe ons huisgesin slegte nuus gekry het, is die honde al agter ons in die huis aan en op ons skote met die eerste kans wat hulle kry. In my kantoor het ons grootste vierpotige iemand gehoor huil, ingekom en haar kop heel empaties op die lidmaat se been laat rus. Was jy al so hartseer, angstig of verward dat jy nie geweet het waarvoor om te bid nie?
Hierdie is seker een van die gerusstellendste en vertroostendste tekste in die Bybel. God verwag nie van ons ’n hoë intellek of uitgebreide woordeskat in gebed nie. God vereis nie eens ons woorde nie. Die Gees is bereid om vir ons met versugtinge in te tree in ons swakheid. Dalk het jy die gawe om in tale te bid, of dalk sug jy net hard. Dit mag dalk wees dat jy nie eens weet wat om te doen, te sê of te dink nie. Ook hierin tree die Gees vir ons in. Hierdie is deel van die Gees se werk in en deur ons.
Hierdie teks is soos ’n vangnet wat my en jou verseker dat ons werklik maar net by God mag wees in ons oomblikke van groot swakheid. Dat die Gees presies weet wat ons benodig en dat God ook deeglik bewus sal wees daarvan. Dalk is dit soms goed om nie met ons woorde en gedagtes oor ons seer of rou in te meng nie, maar net toe te laat dat die Gees vir ons intree en namens ons bid tot God. Ontspan gerus in God se teenwoordigheid. Jy hoef nie al jou eendjies in ’n ry te hê voordat jy in God se arms inhardloop nie.
Ds Thomas Dreyer, Malelane