1 Korintiërs 2: 6-16
Wysheid speel ’n belangrike rol in ons begrip van verskeie dinge in die lewe. Wysheid is die bron van dit wat ons leer uit ons omstandighede; ons moet net bereid wees om na te dink oor dinge wat oor ons lewenspad kom. Die wyse waarop ons oor die lewe nadink, beïnvloed die wyse waarop ons oor ons geloof en oor God nadink. Ons dink op ’n bepaalde wyse oor God na omdat ons ons omstandighede op verskillende wyses ervaar.
Paulus dui vir ons aan dat wysheid ’n geskenk is wat deur God vir ons in Christus gegee word. God openbaar Hom deur die Heilige Gees. Die Gees stel ons in staat om hierdie openbaring van God te ontvang. Wysheid wat ons ontvang, deur God se openbaring, stel ons in staat om ons geloof uit te oefen en om na te dink oor ons geloof. Die Heilige Gees is ’n gawe wat ons in staat stel om God persoonlik te ervaar. Op hierdie wyse leef God in ons en ervaar ons God se teenwoordigheid in al ons omstandighede. Die Gees bemagtig ons om oor ons geloof te leer en hoe om ons geloof uit te leef. Ons moet ons geloof verantwoordelik uitleef teenoor ander mense. Ons kan nie verantwoordelik leef op ons eie nie, ons het God se Gees nodig om ons daarin te lei.
Ons lees in die Ou Testament van baie gevalle waar God se Gees die volk bemagtig om dinge te verrig wat hulle nie uit hul eie kan verrig nie. Dus is die Gees die wyse waarop God sy volk lei en ondersteun, asook die wyse waarop ons God leer ken. Die Gees help ons om tot insig te kom oor God se wil; dit help ons om ons geloofslewe reg te oriënteer. Ons moet altyd daarna streef om meer van God te leer sodat ons in ons geloof kan groei. Groei is ’n goeie ding wat ons in staat stel om wysheid te bekom. Groei in ons geloof help ons ook om God se hand in ons lewe raak te sien; dit is wat wysheid is.
Prop Hanri Reichel, Beroepafwagtend
