Psalm 16

’n Mens sou ’n aartsoptimis moes wees, of heeltemal stiksienig, om nie raak te sien nie dat duisende mense blootgestel word aan mishandeling, armoede en wanfunksionele gesinne. Die wêreld is nie ’n roostuin nie, en een swaeltjie maak nie ’n somer nie, maar het hierdie woorde van die Psalm jou nie aan die hart geruk nie? Lees weer verse 5 en 6: Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. Dink vir ’n oomblik aan dit wat jy het in jou lewe – op hierdie oomblik.

In die film Life is Beautiful leer ons iets van hoe ons die lewe behoort te leef. Ons leer van die hóé wat maak dat ons kan sê: Die lewe is vir my mooi, wat ek ontvang het, is vir my mooi. Ons vind hoop wanneer ons, te midde van die ashope van die lewe, iets goed uit die rommel kan red. Die verhaal speel te midde van die Tweede Wêreldoorlog in ’n Joodse konsentrasiekamp af. Om sy seun die wreedheid van hul omstandighede te spaar, oortuig sy pa hom dat dit net ’n speletjie is. Dié verhaal vier die lewe, ondanks alles. Die verhaal leer ons dat geluk nie gekoppel is aan die aantal seëninge nie, maar aan die houding daarteenoor.

Om te kan sê wat ek ontvang het, is vir my mooi, is nie om te ontken dat daar seer, krisisse en konflik is nie. As ek dit sê, spreek dit iets van die wyse waarop ek hierdie uitdagings hanteer. Sê dan nou wat ek ontvang het, is vir my mooi, en leef daagliks met dankbaarheid, genade en vrede! Gaan ontdek die mooi van die lewe!

Gebed

Here, help my om my altyd vir die positiewe te beywer en om nooit vrede te maak met die boosheid en die chaos in die wêreld nie. Amen.

Ds Lisa-Mari Prinsloo, Sasolburg-Suid

af
af
Deel met behulp van
Copy link