Handelinge 2: 1-4, 32-39
Soos Hy belowe het, het God sy Gees uitgestort op die dag van die Pinksterfees. Onder leiding van die Gees van God, soos in die geval van Esegiël, verkondig Petrus die opgestane Heer. Hy lewe en dié wat in Hom glo, sal lewe. Deur die Gees het ongeveer 3 000 mense die getuienis aangehoor en aanvaar.
Petrus staan op en preek in Jerusalem. Hy getuig aan mense oor die waarheid van die Here Jesus. Vanoggend in die erediens sal ons herinner word aan hierdie Pinkstergebeure. Maar wat vra dit van ons? Ons volg die voorbeeld deur toewyding aan God en sy Woord. Ons woon eredienste by en lees gereeld die Bybel, en doen Bybelstudie. Wanneer gelowiges bymekaar is, word daardie eenheid in die erediens gevier. Alles tot eer van die Here! Daardie onderlinge omgee vir mekaar word gekenmerk deur liefde en onderlinge eenheid. Dit vra aksie. Ons leef en betoon naasteliefde teenoor mekaar en ander. God is vir ons en God se genade is so groot vir almal.
Die eerste gemeente waarvan Handelinge vertel, was uniek. Maar só is elke geloofsgemeente. Waarop fokus ons as geloofsgemeentes? Dink terug aan Esegiël se opset waarna ons die afgelope dae gekyk het. Deur die Gees van God besef ons: Waar nie lewe was nie, is nou lewe. Hoekom? Omdat iemand die woord verkondig het en God deur sy Gees hierdie woord op vrugbare grond laat val het.
Laat ons opnuut die Woord wat in ons moedertaal beskikbaar is, lees en liefhê. Leer ken die inhoud daarvan, beleef sy grootheid. Leef die woord deur die uitleef van sy liefde teenoor ander. Onthou, die Gees is aan die werk!
O Heilige Gees, o heilige God, laat ons al meer gehoorsaam word.
Gee ons meer liefde vir u Woord – ons almal wat aan God behoort,
o Heilige Gees, o heilige God.
O Heilige Gees, o heilige God, laat leef ons uit die groot gebod.
Maak ons in liefde eensgesind, lojaal, steeds aan mekaar verbind,
o Heilige Gees, o heilige God.
(Gesang 434: 2-3)
Ds Kathleen Smith, Kaapstad
